Residentia-inwoners sê virus die stryd aan

Maatreëls help om almal se gesondheid te verseker

Volksblad 15 Apr 2020 Coreli Roos

’n Persoonlike versorger, Annatjie Henning (links), die bestuurder, Mandy Adam, en sr. Edith Martin moet met toe oë hul hande was. Die verf is gebruik om te wys dat hulle oral, ook tussen hul vingers, gewas het.

By Residentia Bethulie geniet die welsyn en beste belange van al sy inwoners voorkeur en is sekere Covid-19-maatreëls daarvoor ingestel.

Ter wille van hul eie veiligheid is die inwoners reeds twee weke voordat die inperkingsbevel in werking getree het, onder kwarantyn geplaas. Daar is terselfdertyd ook ’n verbod geplaas op besoeke aan inwoners.

Die bestuurder, Mandy Adam, sê al die inwoners en personeel het ook, as ’n voorkomende maatreël, griepinspuitings gekry. Residentia-personeel word vir ’n sewedagwerkweek geskeduleer en woon in tydens hierdie tydperk. Hierna is hulle weer vir die volgende sewe dae af. Wanneer hulle hulle weer vir diens aanmeld, word hulle deeglik gekeur voordat hulle met hul take kan begin. “Ons inwoners word twee keer per dag ondersoek. As hulle simptome toon, word hulle in die versorgingseenheid in kwarantyn geplaas. Tot op datum, het ons gelukkig niemand hier wat enige simptome getoon het nie. Ons versorgingspersoneel dra persoonlike beskermingstoerusting (PPE) wat net een maal gebruik word. Dit word weggegooi en hulle trek nuwes aan wanneer hulle na ’n volgende persoon in die versorgingseenheid omsien.”

“Om die moreel ’n bietjie te lig, besoek ek hulle Woensdagmiddae om aktiwiteite met hulle te doen. Dit kan kaartspeel, vingerbord, ensovoorts wees,” sê Residentia se komiteevoorsitter, Marlize van Rensburg. Sy word ook ondersoek.

Sr. Edith Martins neem Eugenia Makhendlane se temperatuur as deel van hul daaglikse keuringsprosedure. Alle personeel word een keer per dag getoets, terwyl die inwoners twee maal per dag ondersoek word.

“Voordat ek toegang kry, moet my temperatuur geneem word, en moet ek ook ’n vraelys beantwoord.

“Ons het onlangs ’n heerlike middag met ons inwoners gehad,” vertel Van Rensburg. “Ons het begin met ’n vasvrakompetisie om hul algemene kennis oor die koronavirus te toets. Ons inwoners is voorwaar goed ingelig, want ons moes die eerste plek tussen drie deel!”

Vir verdere bewusmaking, het drie van Residentia se personeel daarna ’n handewaskompetisie gehou. “Ons het verf gebruik om te was en mag nie gekyk het terwyl ons was nie, want hulle wou sien wie nie ordentlik gewas het nie. Die idee was sodat die inwoners kon sien dat ’n mens oral tussen jou vingers, ensovoorts moet was,” sê Adam.

Die middag is afgesluit met ’n gelukstrekking vir April waar tannie Maryna Jordaan ’n pak beskuit en ’n voetbehandeling gewen het. Tannie Maryna van Heerden het ’n gratis harewas-en-blaas gewen, oom Reggie Scott ’n ontbyt vir twee, en tannie Chrissie du Plessis ’n R200-geskenkbewys vir ’n ete vir twee.

“Almal het heerlik saamgekuier en ondanks die inperking, was almal gemoedelik en gesellig,” sê Van Rensburg.